|

Centurion se 2025-matrieks slaag met uitnemendheid

’n Totaal van 752 kandidate aan Afrikaanse hoërskole in Centurion het tydens die 2025-matriekeksamen altesaam 1 338 onderskeidings ingepalm. Dit is ’n prestasie wat Centurion stewig op die nasionale onderwyskaart plaas. Boonop is Hoërskool Zwartkop landwyd in die 14de plek, wat onderskeidings in Afrikaanse skole betref. Hierdie merkwaardige prestasie is die resultaat van volgehoue akademiese uitnemendheid, sterk en doelgerigte skoolleierskap, toegewyde onderwysers en ’n ondersteunende gemeenskapsnetwerk wat leer en prestasie aktief bevorder. Dit bevestig weereens die krag van samewerking en ’n kultuur van hoë verwagtinge binne Afrikaanse skole in Centurion.

Hierdie inligting is vervat in die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se verslag oor die 2025-matriekuitslae. Die SOS het ook die top- Afrikaanse skole van oor die land heen onlangs tydens ’n merietetoekenningsgeleentheid by Die Centurion Teater vir hul uitsonderlike prestasies in die 2025-matriekeksamen vereer. Skoolhoofde en onderwysleiers het die geleentheid bygewoon om uitnemendheid in onderrig en leierskap te vier.

“Skole is die hart van ’n gemeenskap. Wanneer ’n skool floreer, bou dit ’n sterk samelewing, stimuleer dit ekonomiese groei en lê dit ’n stewige grondslag vir die toekoms van ons kinders,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS.

Volgens Fourie is doeltreffende leierskap en toegewyde onderwysers ’n gemeenskaplike faktor by alle top- presterende skole. “Waar daar ’n kultuur van samewerking en hoë verwagtinge bestaan, sien ons ’n beduidende positiewe invloed op leeruitkomste. Die SOS ontleed jaarliks die matriekuitslae in diepte, met ’n besondere fokus op Afrikaanse skole. Hierdie ontleding bied waardevolle insigte oor nasionale tendense sowel as die unieke bydrae en prestasie van Afrikaanse skole.

Die Centurion-hoërskole, naamlik Hoërskool Centurion, Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Eldoraigne, het almal ’n 100% slaagsyfer in die 2025-matriekeksamen behaal. Hoërskool Eldoraigne het met 244 kandidate ’n indrukwekkende totaal van 393 onderskeidings opgelewer, terwyl Hoërskool Zwartkop met 342 kandidate 759 onderskeidings ontvang het. Hoërskool Centurion spog met 186 onderskeidings, wat 166 kandidate verwerf het.

“Hierdie uitmuntende prestasies is die resultaat van jare se toegewyde werk,” sê dr. Leandie Bräsler, koördineerder van die Centurion Gemeenskapsforum. “Ons bring ook graag ’n besondere huldeblyk aan die Centurion-laerskole wat ’n sterk akademiese enwaardegedrewe grondslag gelê het waarop hierdie leerders se sukses vandag gebou is.”

Die resultate bevestig weereens dat moedertaalonderrig ’n wesenlike rol speel in skoolsukses. Die ware krag van die top- Afrikaanse skole lê nie slegs in individuele prestasies nie maar in hul kollektiewe doeltreffendheid wat versterk word deur samewerking, leierskap en doelgerigte ondersteuning.

Similar Posts