|

Centurion-gesinne kan nou na nuwe oorlewingsgids draai vir hulp

In ’n tyd waar gesinne toenemend onder druk verkeer, het die Centurion Gemeenskapsforum vandag by Industrial Works in Centurion ’n praktiese oorlewingsgids vir gesonde gesinne bekend gestel – ’n gratis hulpbron wat deur die gemeenskap vir die gemeenskap saamgestel is met die oog op Kinderbeskermingsmaand.

Die gids is ontwikkel om ouers, voogde, kinders en onderwysers prakties toe te rus om sterker, veiliger en meer funksionele gesins- en skoolomgewings te bou.

Volgens Zane Babinszky, maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand, wys navorsing onder die Centurion-gemeenskap dat van die grootste uitdagings tans geskeide gesinne, saamgestelde gesinne en enkelouerskap is.

“Die werklikheid is dat baie kinders vandag tussen verskillende huise, ouerrolle en emosionele lojaliteite moet beweeg. Gesinne het nie altyd ’n tekort aan liefde nie, maar dikwels ’n tekort aan praktiese riglyne, taal en ondersteuning. Hierdie gids wil juis daardie leemte help vul,” sê Babinszky.

Die gids se relevansie lê daarin dat baie gesinne vandag nie meer net met gewone ouerskapuitdagings worstel nie, maar ook met die emosionele spanning wat met egskeiding, saamgestelde gesinne en enkelouerskap gepaardgaan. Waar daar reeds konflik, trauma of geweld in ’n huishouding was, kan hierdie oorgange vir kinders nóg moeiliker wees.

Teen hierdie agtergrond is die behoefte aan praktiese ondersteuning dringend. Syfers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toon dat misdade teen vroue en kinders steeds kommerwekkend hoog is, terwyl navorsing deur UNICEF (Verenigde Nasies se kinderagentskap) Suid-Afrika en die Universiteit van Kaapstad se Children’s Institute daarop wys dat geweld teen vroue en kinders dikwels in dieselfde huishoudings voorkom en langtermynskade aan kinders se emosionele, sosiale en akademiese ontwikkeling kan veroorsaak.

Die gids bied daarom nie net raad vir “tradisionele” gesinne nie, maar ook vir enkelouers, geskeide ouers, saamgestelde gesinne en onderwysers wat kinders daagliks ondersteun wanneer huislike spanning, verlies, konflik of trauma hul gedrag en welstand beïnvloed.

Dr. Leandie Bräsler, skolenetwerkbeampte van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, sê elke gesin lyk anders, maar die kernbehoefte bly dieselfde.

“Elke gesin is uniek. Tog deel almal dieselfde wens: om kinders groot te maak wat veilig en geliefd voel en emosioneel gesond is. Hierdie praktiese oorlewingsgids vir gesonde gesinne is saamgestel om gesinne en onderwysers in Centurion te help bou aan ’n sterk, gelukkige, funksionele gesinslewe – ongeag hoe die gesin lyk of watter uitdagings daar is,” sê Bräsler.

Sy sê die samestelling van gesinne verander vinnig. Sommige kinders word groot by biologiese ouers wat steeds getroud is, terwyl ander in enkelouer- of saamgestelde gesinne grootword. Hierdie verskillende strukture bring unieke behoeftes, onsekerhede en emosies mee.

“Kinders floreer wanneer daar sterk verhoudings, goeie kommunikasie, duidelike grense en emosionele ondersteuning in ’n gesin is. Dan leer hulle om hulself te vertrou, beter met ander oor die weg te kom en uitdagings gesonder te hanteer,” sê Bräsler.

Die gids fokus ook sterk op die rol van onderwysers. Skole is nie meer net plekke waar kinders leer lees en skryf nie, maar dikwels ook die eerste plek waar ’n volwassene agterkom dat ’n kind swaarkry.

“Onderwysers sien dikwels eerste wanneer iets nie reg is nie. Wanneer ’n kind skielik teruggetrokke raak, huilerig is, kla van maagpyn of hoofpyn of sukkel om te konsentreer. In baie gevalle is die skool die enigste plek waar ’n kind konstante ondersteuning, struktuur en positiewe leiding ervaar,” sê Bräsler.

Volgens Elana Kriel, opvoedkundige sielkundige by Akademia, word gesonde verhoudings deur daaglikse, doelbewuste keuses gevorm.

“Gesonde verhoudings by die huis en skool word nie net deur groot oomblikke gevorm nie, maar veral deur die daaglikse klein en groot keuses oor doelbewuste optrede en gesprekke met ouers en ander volwassenes. Volwassenes moet hierdie gesprekke met hul kinders prioritiseer en inisieer,” sê Kriel.

Sy beklemtoon dat verhoudings wedersydse betrokkenheid vra.

Die gids bevat praktiese wenke oor onder meer kommunikasie in die huis, emosionele ondersteuning vir kinders, die hantering van trauma soos egskeiding, samewerking tussen ouers en onderwysers en wanneer professionele hulp ingeroep behoort te word. Dit bevat ook ’n lys van wie gekontak kan word wanneer ’n kind of gesin ondersteuning benodig, asook stappe vir aanmeldings.

“Die doel is eenvoudig: om gesinne en onderwysers toe te rus met praktiese hulpmiddels, hoop en handevat-strategieë sodat ons saam ’n gemeenskap kan bou waar kinders veilig, geliefd en sterk grootword,” sê Babinszky.

Laai die gratis gids hier af.

Similar Posts