|

Centurion Maatskaplike Forum hou derde byeenkoms van die jaar

Die Centurion Maatskaplike Forum het op 21 Augustus  hul derde byeenkoms vir die jaar by die Centurion-hotel gehou.

Tydens die byeenkoms het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid beklemtoon dat maatskaplike werkers nie in tegniese detail vasgevang moet word nie, maar dat hulle die groter prentjie altyd in gedagte moet hou. Hy het uitgelig dat korrupsie en uitdagings wel deel van die werklikheid is, maar dat dit nie ’n verskoning mag wees om moed op te gee nie. Inteendeel – maatskaplike werkers moet volhard, want hulle het die unieke rol om hoop te herstel en lewens te verander.

“Dit is fantasties om die werk te sien wat ons maatskaplike werkers, beraders, sielkundiges en jeugleiers in die omgewing doen, waar hulle met harde werklikhede werk en tog ’n verskil in die gemeenskap maak,” sê Leandie Bräsler, koördineerder van die Centurion Gemeenskapsforum.

Zané Babinzsky, voorsitter van die Centurion Maatskaplike Forum en maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand, het beklemtoon dat die forum ’n belangrike ruimte bied waar kundiges kan saamwerk en mekaar kan ondersteun in hul roeping om die gemeenskap te dien.

“Ons is ook bevoorreg om vanjaar tien kerke en verskeie gemeenskapsorganisasies as deel van die Centurion Gemeenskapsfees te hê,” sê Liani Louw, streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand. Hierdie gemeenskapsfees vind op 27 September by die Voortrekkermonument plaas. Vir meer inligting besoek www.gemeenskapsfees.co.za.

Hierdie werke is alles deur die gemeenskap, vir die gemeenskap. Geen enkele organisasie kan die krediet opeis nie, want saam is ons sterker.

Similar Posts