|

Centurion Sakeforum hou eerste ontmoeting

Die Centurion Sakeforum het sy eerste ontmoeting op 14 Augustus by Die Kweekhuis-restaurant in Centurion gehou.

“Dit was regtig bemoedigend om soveel belangstellendes uit ons sakegemeenskap by die eerste ontbytsessie van die Centurion Sakeforum te verwelkom. Nie alleen is ek opgewonde oor die aantal sakepersone wat die geleentheid bygewoon het nie, maar ook oor die entoesiasme wat ervaar is,” sê Louis Holtzhausen.

Die Centurion Sakeforum vorm deel van die groter Centurion Gemeenskapsforum, wat gestig is met die doel om die Afrikaanse gemeenskap van Centurion – insluitend kerke, skole en verskeie gemeenskapsinisiatiewe – te ondersteun.

As ’n vrywillige forum het die Sakeforum ten doel om Afrikaanse sakepersone met mekaar te verbind en te ondersteun. Daarbenewens wil die forum hande vat om ’n verskil te maak in die breër gemeenskap deur skole, kerke en hulpbehoewendes in Centurion by te staan waar moontlik.

Johann le Roux, voorsitter van die Centurion Gemeenskapsfees, het ook die forum toegespreek oor die komende fees wat op 27 September by die Voortrekkermonument plaasvind. “Dit is belangrik dat plaaslike sakeondernemings hierby betrokke raak. Hierdie fees bied iets vir almal – van stalletjies en kunstenaars, tot plaaslike skooltalent van ons nege Afrikaanse skole in Centurion wat optree. Daar is ook ’n pretdraf, bergfietswedrenne en ’n Spur-kinderspeelarea. Dit is belangrik dat ons as gemeenskap saamstaan,” het Le Roux benadruk. Kaartjies vir hierdie fees is beskikbaar by www.gemeenskapsfees.co.za.

Verder het Leandie Bräsler, koördineerder van die Centurion Gemeenskapsforum, aan elke sakeonderneming en entrepreneur ’n plakker (fisies en digitaal) oorhandig waarop staan “Gemeenskapsvriendelik / Community Friendly 2025”. “Hierdie plakker word elke jaar vervang en soos wat plaaslike sakeondernemings deel raak van die skole, die fees en ons maatskaplike forum om daadwerklik ’n verskil te maak, sal hulle elke jaar ’n nuwe plakker kry. Dit kan by hul winkel vertoon word of op hul webblad geplaas word om te wys dat hulle ’n bydrae lewer tot die ekonomiese groei van die Centurion-gemeenskap.”

“Ons slagspreuk, ‘Uit ons Gemeenskap vir ons Gemeenskap’, was nog nooit so belangrik soos nou nie,” beklemtoon Holtzhausen.

Indien jy as sake-eienaar, sakeonderneming of entrepreneur by hierdie forum betrokke wil raak, stuur ’n e-pos aan navrae@gemeenskapsforum.co.za.

Similar Posts