Skole vang gees in aanloop tot Centurion Gemeenskapsfees
Nagenoeg 3 500 leerders van Hoërskool Centurion en Hoërskool Zwartkop het begin om hul vere reg te skud vir die Centurion Gemeenskapsforum se eerste gemeenskapsfees wat in September plaasvind. Die Centurion Gemeenskapsforum spruit voort uit plaaslike instellings wat beywer om wedersydse ondersteuning te bewerkstellig, gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder en gesamentlike oorhoofse beplanning te doen om ’n sterk, selfstandige gemeenskap te vestig wat op ’n verskeidenheid terreine aktief tot voordeel van die gemeenskap werk.
In ophou tot vanjaar se fees, wat Saterdag, 27 September by die Voortrekkermonument plaasvind, het dié forum saam met verskeie rolspelers besoek by Hoërskool Centurion en Hoërskool Zwartkop afgelê. Bekende kunstenaars soos Kurt Darren, Ghapi en Leandri Martin het tydens die besoek aan Hoërskool Centurion vir ’n onvergeetlike atmosfeer gesorg, met honderde leerders wat saam gees gevang het vir ’n spesiale OntbytSake-insetsel – met Pretoria FM wat regstreeks vanaf die skool uitgesaai het. Die hoogtepunte van dié besoek sal op 9 Augustus op OntbytSake op kykNET (kanaal 144) uitgesaai word en Hoërskool Zwartkop se insetsel, waartydens die sanggroep Droomsindroom die Zwarries verras het, sal op 16 Augustus volg.
“Dié gemeenskapsfees is ’n unieke inisiatief wat nege Afrikaanse skole in Centurion saambring. Dit gee ons die geleentheid om fondse in te samel om in ons skole, onderwysers en uiteindelik ons leerders te belê. Ons beoog om gebalanseerde jong volwassenes die wêreld in te stuur – met sterk akademiese, sport- en kultuurblootstelling,” sê Lappie Labuschagne, skoolhoof van Hoërskool Centurion.




Dr. Dewald Strydom, hoof van Hoërskool Zwartkop, beaam dié sentiment: “Ons skole vervul vandag die sentrale rol wat kerke vroeër in gemeenskappe gespeel het. Deur saam te werk met ander skole, ondernemings en instansies in Centurion, bou ons nie net ’n sterker gemeenskap nie – ons bou aan ons land se toekoms. Dat die opbrengs van die fees in ’n gemeenskapsstudiefonds beland, wys dat hierdie projek werklik iets teruggee.”




Beide skole sal op die feesdag met talent spog. Hoërskool Zwartkop se All Stars, Zwarimbas, sergroep en soliste tree op, terwyl Hoërskool Centurion se leerders, insluitend die opkomende sangeres Jade van Huysteen (wat reeds met ’n enkelsnit op Spotify spog), ook die verhoog sal deel.
Die Centurion Gemeenskapsfees bied iets vir elkeen – van gesinsvriendelike vermaak, bekende kunstenaars, ’n boere- en tierlantyntjiesmark, skooltalent en ’n gemeenskapskombuis, tot ’n pretloop en bergfietswedren. Die winste word ten volle aangewend vir die vestiging van die Centurion Skole-Studiefonds, wat beoog om plaaslike leerders deur rentevrye studielenings te ondersteun.
“Hierdie fees is meer as net ’n dag van pret – dit is ’n belegging in ons kinders en hul toekoms,” sê dr. Leandie Bräsler, koördineerder van die Centurion Gemeenskapsforum. “Ons nooi die hele Centurion en omliggende gemeenskappe uit om deel te wees van hierdie geskiedkundige geleentheid.”
Kaartjies is by iTickets beskikbaar of besoek www.gemeenskapsfees.co.za vir meer inligting. Centurion Gemeenskapsfees – uit die gemeenskap, vir die gemeenskap!