Tweede Centurion Skoleforum-vergadering bou aan sterker samewerking tussen skole en die gemeenskap

Die Centurion Skoleforum het Woensdag 6 Augustus sy tweede vergadering vir die jaar by die Hoërskool Centurion gehou. Skoolhoofde en afgevaardigdes van al nege Afrikaanse skole in Centurion was teenwoordig. Hierdie byeenkoms bied aan die skoolgemeenskap die geleentheid om op ’n gereelde basis met mekaar te ontmoet en kwessies van gemeenskaplike belang te bespreek.

“Dit was ’n groot voorreg om tydens die geleentheid met verskeie kenners in die skole-gemeenskap te skakel,” sê Stephan van Zyl, voorsitter van die forum. “Die Centurion Skoleforum skep ’n ruimte waar samewerking tussen skole nie net ons skolegemeenskap versterk nie, maar ook strek tot voordeel van al die leerlinge, ouers en personeel van hierdie instellings.”

Werner Human van die Solidariteit Beweging, asook adv. Albert Lamey, het die forum toegespreek oor die belangrike kwessie van taal- en toelatingsbeleid in skole rakende BELA. Verder is planne ingestel oor die stigting van die Centurion Skole‑Studiefonds, wat beoog om plaaslike leerders deur rentevrye studielenings te ondersteun. Die Centurion Gemeenskapsfees wat op Saterdag 27 September 2025 by die Voortrekkermonument plaasvind, is juis die groot projek om fondse deur middel van die wins van die fees vir die studiefonds in te samel. Besoek gerus www.gemeenskapsfees.co.za vir meer inligting.

Aqua Energy se Gideon Burger het ook tydens die vergadering sy bydrae gelewer. Hulle bied vir skole innoverende wateroplossings wat nie net leerders se dors les nie, maar ook volhoubaarheid bevorder. Met hoëvloei-waterfiltrasiestasies wat soos reuse-energiedrankblikke lyk, verseker Aqua Energy dat water altyd vloei – die oorspronklike “energie-drankie”. Skole kry slim monitering en terugvoer om watergebruik beter te bestuur en watervermorsing met tot 25% te verminder. Addisionele oplossings soos reënwateropvang, rugsteunstelsels en boorgat-integrasie help om skole waterseker te maak en krisisse die hoof te bied.

“Skole en sakeondernemings ondersteun mekaar in die gemeenskap – dit is gemeenskapsvriendelik en saam kan ons werk om mekaar te versterk en Centurion se ekonomie te bevorder. Die Skoleforum is die eerste subforum van die Centurion Gemeenskapsforum wat gestig is, want skole is die spilpunt van die gemeenskap,” sê Leandie Bräsler.

Similar Posts